Latest News release of Honeybush Tea!
Heuningbos Tee dalk teen borskanker ingespan
Deur LandBou Weekblad
13 Mei 2014
Heuningbos tee kan dalk in die stryd teen borskanker ingespan word, en hoewel navorsing nog in die beginfase is, lyk resultate belowend.
Borskanker is is verantwoordelik vir die meeste kankersterftes onder vroue. Maar in die nabye toekoms kan fynbos dalk ingespan word om dit hok te slaan.
Só meen dr. Koch Visser van die departement biochemie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy het in ? onlangse doktorale studie aan die US bevind dat die fynbosplant Cyclopia, wat gebruik word om heuningbostee te maak, moontlik kan help om die ontwikkeling van borskanker te keer.
Visser het spesifiek gekyk na die uitwerking van Cyclopia-ekstrakte op borskankerselle om die moontlike molekulêre meganisme hieragter beter te verstaan.
Hy het weefselkultuurtegnieke gebruik om die uitwerking van ekstrakte, wat van gedroogde plantmateriaal verkry is, te toets. Met weefselkultuur word kommersieel beskikbare kankerselle wat in ? laboratium gekweek is en onbepaald kan vermeerder vir toetsing gebruik. Volgens Visser is weefselkultuur veral nuttig om molekulêre meganismes uit te pluis, aangesien dit makliker gemanipuleer kan word.
“Ons het gevind dat Cyclopia-ekstrakte die estrogeen-geïnduseerde groei van borskankerselle keer deur estrogeen- reseptorsubtipes, wat die groei van sulke selle bevorder, te teiken en te onderdruk,” sê Visser. Estrogeen verrig sy fisiologiese funksie deur middel van hierdie subtipes.
“Ek is veral opgewonde oor die bevinding dat Cyclopia-ekstrakte deur die spysverteringskanaal geabsorbeer word, en selfs teen hoë konsentrasies nie toksies is nie. Die ekstrakte stimuleer ook nie groei van die baarmoeder nie.”
Belangrike bevinding
Volgens Visser is hierdie bevinding belangrik, aangesien verskeie studies al getoon het dat sekere middels teen borskanker die kans op kanker van die baarmoeder kan verhoog. “Die moontlikheid bestaan dat hierdie navorsing ? verskil mag maak vir vroue wat in die toekoms met borskanker gediagnoseer word, veral as in ag geneem word dat daar wêreldwyd ? behoefte is om die ontwikkeling en progressie van hierdie siekte beter te verstaan ten einde dit doeltreffend te behandel.”
Visser sê Cyclopia,wat rylik beskikbaar is en kommersieel as heuningbos verkoop word, bevat aktiewe verbindings of “plant-estrogene” wat die effek van ons eie hormone kan naboots of teenstaan. Hy noem dat dit belangrik is om die aktiewe verbinding(s) te probeer identifiseer sodat die inname daarvan gereguleer kan word en verbruikers weet dat hulle wel die aktiewe bestanddeel in die regte dosis inneem.
Vroue wat hierby baatvind
Visser sê veral vroue van 50 jaar en ouer kan by navorsing oor Cyclopia baat omdat hulle ? groter kans op borskanker het. Hulle is ook meer geneig om hormoonvervangingsterapie te gebruik omdat die natuurlike produksie van estrogeen tydens menopouse dramaties afneem, voeg hy by.
“Hormoonvervangingsterapie word normaalweg voorgeskryf vir die behandeling van simptome wat met menopouse geassosieer word, maar dit kan bydra tot die ontwikkeling van borskanker.”
Visser meen Cyclopia-ekstrakte kan moontlik as alternatief vir tradisionele hormoonvervangingsterapie gebruik word. Hoewel die resultate van sy studie belowend lyk, sê Visser dat hierdie tipe navorsing nog in die beginfase is. “Ons is natuurlik hoopvol dat ons op die regte pad is en voel ons kan ? daadwerklike bydrae maak tot die poel van kennis oor hoe borskanker ontwikkel.”
Visser sê navorsing by ander instansies waaronder die Mediese Navorsingsraad, Noordwes-Universiteit en die Universiteit van Wes-Kaapland het getoon het dat Cyclopia-ekstrakte ook moontlik beskerming kan bied teen vel-, lewer- en slukdermkanker.